
Gerhard Pretorius
By Meraki Rame vier ons die talent van ons plaaslike kunstenaars. In hierdie reeks plaas ons die kollig op die mense agter die kunswerke en vertel ons iets van hul verhaal.
Vandag stel ons Gerhard Pretorius bekend. Sy gunsteling medium is ink op papier, ’n kunsvorm waarin sterk lyne en noukeurige lynwerk ’n besondere karakter aan elke stuk verleen.
Gerhard het in Vanderkloof grootgeword voordat hy en sy gesin in 2013 na Orania verhuis het. Ná sy studies in Bloemfontein het hy weer hier kom vestig – terug by die gemeenskap waar hy grootgeword het.
In 2021 is hy met Annemarie getroud, waarna hulle saam hul lewe in Orania begin bou het. Annemarie het reeds in 2019 hierheen gekom.
Van Gerhard se werke is tans by Melk en Heuning beskikbaar, en ons moedig jou aan om daar ’n draai te maak en dit self te gaan besigtig.
Hou gerus hierdie reeks dop soos ons meer van ons plaaslike kunstenaars se stories deel.

Marinda Le Grange
Mev. Marinda le Grange, gebore Grobler op 10 Oktober 1954 in Pretoria, is ’n kunstenaar wie se werk uit ’n diep bron van geloof en toewyding spruit. Sy is die dogter van Willie en Maureen Grobler. Haar pa was ’n algemene handelaar en haar ma ’n laerskoolsekretaresse. In ’n huisgesin van drie kinders het haar talent vroeg na vore gekom, en haar ouers het haar aangemoedig om dit te ontwikkel deur haar van die nodige materiaal te voorsien.
Sy is getroud met Koos le Grange, ’n afgetrede nyweraar, en saam het hulle vier kinders: Jacobus (45), ’n argitek; Cornelis (43); Maryna (40), ’n goudsmid; en Rudolf (36).
Marinda beskryf haar liefde vir skeppende kuns as ’n gawe van haar Skepper. Vandag word sy steeds ondersteun deur haar familie — Cornelis en sy vrou sorg dat sy altyd genoeg materiaal het, terwyl Maryna en Koos haar werk met ’n kritiese oog beskou.
Sy werk hoofsaaklik met grafiet, soms in kombinasie met houtskool, maar het ook ’n liefde vir akriel-, olie- en waterverf. Vir haar lê die grootste vreugde in die skeppingsproses self: om met ’n opdrag te begin, om besig te wees met die fyn werk, en uiteindelik die taak te voltooi met die tevredenheid van die kliënt as doel.
Haar onderwerpe wissel van natuurtonele en stillewes tot portrette. Vir lank was windpompe ’n sentrale tema, terwyl sy die afgelope jaar veral skape uitbeeld. ’n Kleur wat vir haar uitstaan, is die sagte Ceruleanblou van die lug, gemeng met wit.
Wanneer sy nie besig is met haar kuns nie, geniet sy dit om tyd saam met haar kleinkinders deur te bring — om vir hulle te lees, saam te verf en met klei te speel.
Haar raad aan opkomende kunstenaars is eenvoudig: oefen. Oefen jou waarnemingsvermoë, oefen met verskillende mediums, en werk op verskillende groottes papier of doek.